Meer oor ons:
Uit die pen van Joubert van der Merwe
My passie vir die boerbok het ontstaan toe ek `n seuntjie van 5/6 jaar oud was. My pa het ons familieplaas begin boer in 1941. Biedouw lê aan die oostekant van die Sederberge, sowat 55km vanaf Clanwilliam, in die Biedouwvallei. Dis harde wêreld hierdie, met lang droeë somers en winters wat af en toe oorslaan met lae reënval. My pa het geglo dat jy nooit al jou eiers in een mandjie moet sit nie en daarom het hy `n gemengde boerdery bedryf. Die plaas wat deur die Lubbe-familie on die laat 18de eeu aangelê is, is een van die oudste veeplase in die land. Dis ook hier waar die bekende skrywer en digter, P van der Merwe, alias Boerneef se ma gebore is. Hy het as jong seun baie by sy familie kom kuier en daar speel baie van sy verhale ook op die familieplaas af. Die geboue en krale is meestal met klip en klei gebou, met rietdakke. Die houtwerk in die geboue is meestal sederhout, wat destyds volop in die sederberge was. Hier staan vandag nog sederhout ankerpale in die veld wat meer as 100 jaar oud is. Op die plaas was ook `n watermeul, skooltjie en smitswinkel en stalle vir baie perde. Die klipkrale het hoë mure, want die Lubbes en ook later my pa, het met groot troppe afrikanerbeeste geboer, bekend vir hulle weglê horings. My oupa Sarel het `n besonderse slag met diere gehad. Behalwe dat hy `n goeie ruiter was, het hy ook jong perde ingebreek en geleer. Sy rooi Afrikaner osse het hy ingespan by skoue. In 1938 met die 100 jaar herdenking van die ossewa trek, moes waspanne vanoor die hele land die lang tog Pretoria toe aanpak vir die opening van die voortrekker-monument. Die spanne is in skofte ingedeel. Oupa se span rooies was een van drie spanne osse wat die eerste skof van die Kasteel in Kaapstad moes trek oor Bainskloofpas na Worcester.
​
Die Biedouwsrivier kry sy water uit die berge. Water is redelik beskikbaar tot in die laatsomer, wanneer die rivier begin opdroog. Toe ek my verstand gekry het, het Pa met sitrus, groente, roltabak, bietjie graan en vee geboer. Ek onthou die troppe rooi Afrikanerbeeste, vetsterttipe Afrikaner skape en `n mengelmoes van verskillende bokke van allerhande kleure en tipes. Dis hoofsaaklik bergwêreld die, met volop ongediertes. Kleinvee is gekraal, om ook kraalmis te gebruik vir tabak en groente-boerdery. Die stalle was altyd vol perde wat oral gebruik was om vee bymekaar te maak, te ploeg en later ook om te skou. Teen daardie tyd was die Biedouw-vallei van sowat 30 km al redelik getem en twaalf plase aangelê. Perde was volop en is ook gebruik om koring, gars, hawer en rog op trapvloere uit te trap. So het ek bewus geraak van die mooiste ryperde. Meeste boere in die vallei het van die mooiste Vlame, Hackneys en Boerperde gehad. Pa het sy eerste Saalperdhings in 1959, toe ek ses jaar oud was, met sy splinternuwe Ford F100 bakkie, in Williston gaan koop. Die skoubloed loop dik in die van der Merwes se are, vandat my oupa in 1931 Clanwilliam se skou help stig het. Vandaar, vier geslagte later skou ons nogsteeds.
​
Hoekom vertel ek van perde? Ek moet dan oor boerbokke skryf. Twee redes: my eerste ordentlike boerbokram is verruil vir `n Saalperdmerrie. Tweedens, probeer ek die prentjie van `n mooi Saalperd gebruik om my ideale Boerbok te teel, kompleet met `n romeinse neus, mooi nekaansluitin. Die bokkraal was so 500m van die opstal onder `n krans met baie klippe, geleë. Ek het op die jong ouderdom van ses jaar altyd saam met die bokwagter agter die bokke aangestap. Ooie het altyd in die winter gelam. Later het Pa dit so beplan dat die bokke begin lam die dag as die skole sluit vir die Junie-vakansie. Dan kon ek, my broers en suster help boklammers aandra kraal toe. Ek onthou hoe versot ek op die bokkies was en het altyd soggens met my wit enemmel emmertjie kraal toe gegaan. Ons het hoofsaaklik net bokvleis geëet. Dis seker een van die redes hoekom ek so passie vir die Boerbok het. Dit was die dae van die 4-5 jaar oud kapaters wat kraakkloutjie loop as dit `n mooi blommejaar was. Hierdie was die vyftiger en sestiger jare. Toe het die trop bokke bestaan uit bantams, rooibontes, jasboude, `n paar wittes en rooikoppe. My passie het gedurende my skool loopbaan verder ontwikkel vir bokke. Wanneer die skool begin het na die Junie-vakansie, het ek altyd vroegoggend nog weer `n draai by die kraal gemaak. Ek het die bokke by die naam geken en wanneer die lammers saans uit die lammerhokke gegee word, geweet watter lammers watter ooi se lammers was, dan moet ek my storie ken om hulle te onthou.
​
Na my matriekjaar in 1971, is ek weermag toe in Pretoria. Ver van my bokke af. My pa het op daardie stadium alreeds van Oom Rensie Nieuwoudt, Pip se pa, se ramme gebruik. Die rooikoplammers het meer geword en bouvorm en tipe het verbeter. Ek het al hoe meer besef dat my pa nou beter bokke teel, alhoewel daar nog heelwat kleurafwykings was. Oom Rensie het die ramme uit Oom Paul Jordaan se bokke geteel. Na my weermag-opleiding is ek in 1973 terug op die plaas. Daar was nie finansies om verder te gaan leer nie. Ek moes Junie-maand op Riversdal in die Suid-Kaap by Departement Landbou, gaan inval. Januarie moes die ooie by die ramme kom. Oom Rensie het by ons kom kuier en vir sy kinders `n mak ryperd kom soek. So het Pa vir Spring Show verruil vir ons eerste goeie Jordaan ram. Ek het hom Kerneels gedoop. Daardie jaar, Junie 1973 het sy eerste lammers aangekom. Hy het pragtige ooie geteel. Hy het pragtige ooie geteel en het `n groot verbetering op die boktrop gemaak. Die kwaliteit van die bokke het nou baie verbeter. `n Tweede ram van Oom Rensie is aangekoop. Ek het gedurende my verlof tye begin selekteer. Die bouvorm en tipe het aanhou verbeter. In 1975 is ek na my tuisdorp, Clanwilliam, verplaas. Nou was ek nader aan my boktrop. Nog ramme is aangekoop by Oom Rensie Nieuwout se Nama Stoet en Manus van Zyl. In April 1975 neem ek aan my eerste skou deel op Clanwilliam. Kerneels se nageslag het goed gevaar, veral sy ooie. Nog ramme is aangekoop by o.a. Oom Abraham van Zyl van Vanrhynsdorp. Hy was bevriend met Oom Louis Nell en ek het ook uit hom geteel, sowel as Oom Willem van Zyl van Bohoff. Kolnek was `n Nell ram wat mooi haarkwaliteit geteel het, asook goeie agterkwarte. Nog skoue het gevolg soos Calvinia, Springbok en later Nieuwoudtville. Ek onthou toe Nico Botha die eerste keer op Calvinia kom skou het. Sy stoet was nog jonk en het ons Wes-Kaap telers vir die eerste keer ontmoet. Ons het hom behoorlik pak gegee. Dit was die laaste keer. Hy het daardie volgende jaar weer teen ons kom skou. Hy het ons oorheers en vandaar verskeie SA kampioene geteel.
​
In 1978 doen ek aansoek vir lidmaatskap van die SABTV. Ek kry stoetnommer 571 en kry ook my eerste inspeksie. Oom Bart Jordaan het my keuring gedoen. Die tyd was nou reg om `n junior kursus te doen. Oom Boetie Malan het die kursus op Clanwilliam aangebied in 1980. Ek het begin om ramme van ander telers te koop o.a. Dawie van Zyl, Fourie Marais, Sakkie Nel en Lukas Burger. Die stoetery het verder verbeter en meer kampioene by skoue begin oplewer. In 1989 toe daar heelwat Boerboktelers in die Wes-Kaap geregistreer het, besef ek dat `n klub gestig moet word om beter skakeling met die SABTV te kry. So is die klub dan in 1989 gestig. Die klub het baie promosie gedoen, veral in Namakwaland, waar baie bokboere is. In 1995 senior kursus in Kimberley gedoen. Dit was ook `n groot mylpaal in my lewe as ringbeampte kon optree opWorcester in 1996, Bloemfontein Wêreldskou in 1998 en Wêreldskou 2002 in Victoria Wes. Dit was goeie ondervinding om saam met die land se voorste beoordelaars `n ring te deel. Die klub het ook begin om Junior Boerbokkursusse aan te bied. Ben Olivier, wat die klub op die raad verteenwoordig het, was kursusleier. Oom Boetie Malan, wie ek as een van my mentors beskou, het ook in die begin gehelp om die kursusse aan die gang te kry. Augsburg Landbougimnasium se leerders moet elke jaar hierdie kursus doen. Dis deel van hulle leerplan. Ek het die kursus later saam met Ben aangebied en toe hy aftree dit op my eie gedoen.
​
Een of ander tyd wou ek graag my bokke meet teen die ander telers. Die kans het gekom in 2006 toe ek met sewe bokke op my bakkie na die Wêreldskou op Upington is. My eerste plasing op `n wêreldskou was toe `n ooilam `n 4de plasing in die klas 45-60kg kry. `n Tweede plek in die ooilam klas oor 60kg, was vir my `n groot prestasie. Daarna het `n 6-tand ooi ook gevorder tot `n sewende plek in haar klas. Ek kon tevrede terugry huis toe met die wete dat ek op die regte pad is met my teling.
​
Intussen het ek my beoordelaarskursus op Kareehoek, Britstown gedoen in 2007, waarna ek gekwalifiseer het as beoordelaar. Die hoogtepunt van my lang verbintenis met die boerbok is toe ek in 2010 gekies is as beoordelaar op die wêreldskou op Lichtenburg om saam met Lukas Burger en Johan Strauss te beoordeel. Hierna het Bloemfontein gevolg in 2016 toe ek Kalahari reds en Savannas op die Wêreldskou beoordeel het. Vandag is my passie vir my gunsteling ras steeds daar. Oor die jare het ek groot name in die bedryf ontmoet en skoue het my dwarsoor die land gevat. hopelik gaan my nageslag nog die stoetery verder vat. Ek gaan nog my boerbok teel met die trotse houding van die saalperd en my droom bereik om `n wêreldkampioen te teel.